1.1 Inleiding
Voor ek nou
regtig begin skryf aan hierdie blog, moet ek darem seker net eers verduidelik
wie ek is, wat my nou eintlik kwalifiseer om ‘n blog te skryf en waar die naam
van die blog vandaan kom.
Laat ek
maar met die laaste begin want dit is die maklikste. Ek het in die 50’s, 60’s en 70’s in die Suide
van die ou Suidwes, vandag Namibië, groot geword. Of miskien moet ek sê begin grootword, want
smaak my ek is steeds daarmee besig. Nou
destyds het ons op die plaas net kortgolf op die radio kon opvang – spoorweg
radio het ons hom genoem, want hy het op elke stasie gefluit. Met die weervoorspellings was daar ‘n
voorspelling vir Suidwes, miskien iets “Warm in die Suide” en dan iets soos:
“... en bloedig warm elders.” In ons
wêreld in die verre Suide het ons geglo “Suide” is Keetmanshoop en Mariental,
en daai “elders” was ons voorspelling.
Dit was daar waar niemand van geweet het nie, en waar almal altyd vinnig
deur gery het op pad Noorde toe, want daar was “niks”. Dit kon ek nooit verstaan nie. Hoe kan daar “niks” wees? Ons was dan daar en ons is mos nie “niks”
nie.
Die laaste
jare het ek op plekke begin rondswerf wat meer “elders” is as wat dit daar
was. Op sommige plekke waar daar
“nikser” is as in die verre Suide van Namibië.
Dit sluit lande in soos Eritrea, Afghanistan, Suid-Soedan, Somaliland,
Somalië en Soedan (Darfoer). Miskien is
dit juis wat ek met “Briewe van Elders” wil bereik – om te vertel dat daar op
“elders” ook “iets” is.
Nou hoe het
dit gebeur dat ek op sulke plekke rondswerf?
Wel, deels omdat ek ‘n inkomste nodig gehad het (en nog steeds het),
deels omdat ek iets doen waarmee ek ‘n verskil kan maak en so by so was dit ‘n
geleentheid om my swerwersdrang uit te leef.
Die plaas waarop ek groot geword het se naam is Nimmerrust ...
In ‘n vorige lewe
was ek ‘n predikant en kapelaan in die weermag.
Om persoonlike redes wat niks met politiek of kleur te doen het nie, het
ek in Januarie 2000 die weermag met ‘n pakket verlaat en as predikant geëmeriteer. Een van die kenmerke wat ek soms as sterkpunt
beskou, maar soms ook heelwat ongerief kan veroorsaak is dat ek redelik naïef
is. Ek het geglo dat ek dit daar buite
sou kon maak. Maar besigheid en
bemarking staan ver agter in die ry van my sterkpunte.
So het dit dan gebeur dat ek
in die buiteland in landmynaksie begin werk het. My eerste pos was veld
logistieke koördineerder, ‘n aflos pos, in Eritrea by Mechem, ‘n
Suid-Afrikaanse mynopruimingsorganisasie. Daarna het ek in “rapid road
assessments” en meganiese mynopruiming gewerk, totdat ek my nis in “Mine Risk
Education” gevind het. Ek het vir kommersiële mynopruimingsorganisasies, ‘n
nie-regeringsorganisasie, en ‘n nie-winsgewende organisasie gewerk, en
uiteindelik vir die VN se mynaksiediens (UNMAS).
Weens ‘n tekort
aan fondse is my laaste kontrak, vir UNMAS in Darfoer, nie na 31 Desember 2017 verleng
nie. Ek is tans tuis, maar die
wanderlust pla erg en ek is weer op die uitkyk vir ander geleenthede.
Oor die jare het
ek soms gereeld, en soms minder gereeld aan familie en vriende ‘n nuusbrief
geskryf om te vertel van my wedervarings en waarnemings. In Eritrea was daar nie internetverbinding in
die veld nie. Daar het ek dagboek gehou
soos in die ou dae – met die hand.
Soms is my
waarnemings krities oor die internasionale humanitêre gemeenskap, insluitend my
werkgewers. Maar ek het dit net gedoen
wanneer ek gedink het dit is nodig. Ek
hoop dat hierdie skrywes tog ook sal help om hulle ongelooflike bydraes tot die
welstand van mense te verbeter.
Ek hoop u geniet
die reis saam met my, soos ek dit geniet het.
Maak vas julle veiligheidsgordels.
Hier gaan ons.
NS Lewer asseblief kommentaar om my te help om
my skryfwerk te verbeter, en terwille van bespreking oor die onderwerpe wat ek
gaan aanraak.
'n Direkte vertaling sou seker wees: 'n Vinnige pad assessering. Maar ek weet jy hou van 'n tong innie kies vertaling. Wat van " 'n Haastige Pad Fynkam."
ReplyDeleteEk sien uit na jou vervolgverhaal. Ek sou graag meer wou weet van die plaaslike mense. Hoe hulle leef en glo. Wat maak mense "eldres" anders as hier.
Mmm, die eerste een klink meer amptelik - ek het dit ook oorweeg. Maar ek hou meer van die tweede een.
Delete