1.1 Inleiding

Voor ek nou regtig begin skryf aan hierdie blog, moet ek darem seker net eers verduidelik wie ek is, wat my nou eintlik kwalifiseer om ‘n blog te skryf en waar die naam van die blog vandaan kom.

Laat ek maar met die laaste begin want dit is die maklikste.  Ek het in die 50’s, 60’s en 70’s in die Suide van die ou Suidwes, vandag Namibië, groot geword.  Of miskien moet ek sê begin grootword, want smaak my ek is steeds daarmee besig.  Nou destyds het ons op die plaas net kortgolf op die radio kon opvang – spoorweg radio het ons hom genoem, want hy het op elke stasie gefluit.  Met die weervoorspellings was daar ‘n voorspelling vir Suidwes, miskien iets “Warm in die Suide” en dan iets soos: “... en bloedig warm elders.”  In ons wêreld in die verre Suide het ons geglo “Suide” is Keetmanshoop en Mariental, en daai “elders” was ons voorspelling.  Dit was daar waar niemand van geweet het nie, en waar almal altyd vinnig deur gery het op pad Noorde toe, want daar was “niks”.  Dit kon ek nooit verstaan nie.  Hoe kan daar “niks” wees?  Ons was dan daar en ons is mos nie “niks” nie.

Die laaste jare het ek op plekke begin rondswerf wat meer “elders” is as wat dit daar was.  Op sommige plekke waar daar “nikser” is as in die verre Suide van Namibië.  Dit sluit lande in soos Eritrea, Afghanistan, Suid-Soedan, Somaliland, Somalië en Soedan (Darfoer).  Miskien is dit juis wat ek met “Briewe van Elders” wil bereik – om te vertel dat daar op “elders” ook “iets” is.

Nou hoe het dit gebeur dat ek op sulke plekke rondswerf?  Wel, deels omdat ek ‘n inkomste nodig gehad het (en nog steeds het), deels omdat ek iets doen waarmee ek ‘n verskil kan maak en so by so was dit ‘n geleentheid om my swerwersdrang uit te leef.  Die plaas waarop ek groot geword het se naam is Nimmerrust ...

In ‘n vorige lewe was ek ‘n predikant en kapelaan in die weermag.  Om persoonlike redes wat niks met politiek of kleur te doen het nie, het ek in Januarie 2000 die weermag met ‘n pakket verlaat en as predikant geëmeriteer.  Een van die kenmerke wat ek soms as sterkpunt beskou, maar soms ook heelwat ongerief kan veroorsaak is dat ek redelik naïef is.  Ek het geglo dat ek dit daar buite sou kon maak.  Maar besigheid en bemarking staan ver agter in die ry van my sterkpunte. 

So het dit dan gebeur dat ek in die buiteland in landmynaksie begin werk het.  My eerste pos was veld logistieke koördineerder, ‘n aflos pos, in Eritrea by Mechem, ‘n Suid-Afrikaanse mynopruimingsorganisasie.  Daarna het ek in “rapid road assessments” en meganiese mynopruiming gewerk, totdat ek my nis in “Mine Risk Education” gevind het.  Ek het vir kommersiële mynopruimingsorganisasies, ‘n nie-regeringsorganisasie, en ‘n nie-winsgewende organisasie gewerk, en uiteindelik vir die VN se mynaksiediens (UNMAS).

Weens ‘n tekort aan fondse is my laaste kontrak, vir UNMAS in Darfoer, nie na 31 Desember 2017 verleng nie.  Ek is tans tuis, maar die wanderlust pla erg en ek is weer op die uitkyk vir ander geleenthede.

Oor die jare het ek soms gereeld, en soms minder gereeld aan familie en vriende ‘n nuusbrief geskryf om te vertel van my wedervarings en waarnemings.  In Eritrea was daar nie internetverbinding in die veld nie.  Daar het ek dagboek gehou soos in die ou dae – met die hand.

Soms is my waarnemings krities oor die internasionale humanitêre gemeenskap, insluitend my werkgewers.  Maar ek het dit net gedoen wanneer ek gedink het dit is nodig.  Ek hoop dat hierdie skrywes tog ook sal help om hulle ongelooflike bydraes tot die welstand van mense te verbeter.

Ek hoop u geniet die reis saam met my, soos ek dit geniet het.  Maak vas julle veiligheidsgordels.  Hier gaan ons.

NS  Lewer asseblief kommentaar om my te help om my skryfwerk te verbeter, en terwille van bespreking oor die onderwerpe wat ek gaan aanraak.





Comments

  1. 'n Direkte vertaling sou seker wees: 'n Vinnige pad assessering. Maar ek weet jy hou van 'n tong innie kies vertaling. Wat van " 'n Haastige Pad Fynkam."
    Ek sien uit na jou vervolgverhaal. Ek sou graag meer wou weet van die plaaslike mense. Hoe hulle leef en glo. Wat maak mense "eldres" anders as hier.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Mmm, die eerste een klink meer amptelik - ek het dit ook oorweeg. Maar ek hou meer van die tweede een.

      Delete

Post a Comment