1.1 Inleiding
Voor ek nou regtig begin skryf aan hierdie blog, moet ek darem seker net eers verduidelik wie ek is, wat my nou eintlik kwalifiseer om ‘n blog te skryf en waar die naam van die blog vandaan kom. Laat ek maar met die laaste begin want dit is die maklikste. Ek het in die 50’s, 60’s en 70’s in die Suide van die ou Suidwes, vandag Namibië, groot geword. Of miskien moet ek sê begin grootword, want smaak my ek is steeds daarmee besig. Nou destyds het ons op die plaas net kortgolf op die radio kon opvang – spoorweg radio het ons hom genoem, want hy het op elke stasie gefluit. Met die weervoorspellings was daar ‘n voorspelling vir Suidwes, miskien iets “Warm in die Suide” en dan iets soos: “... en bloedig warm elders.” In ons wêreld in die verre Suide het ons geglo “Suide” is Keetmanshoop en Mariental, en daai “elders” was ons voorspelling. Dit was daar waar niemand van geweet het nie, en waar almal altyd vinnig deur gery het op pad Noorde toe, wan...