Om te hardloop, of...
Skrywersblok? Dit was 'n stewige blok. Ek het lanklaas geskryf. Hierdie aflewering het min te doen met "elders". Maar hopelik help dit om weer te probeer.
Gister, Saterdag 16 November was vir my ‘n besondere
dag. Ek en Gerhard, die jongste van my
twee seuns, het vir die eerste keer in jare saam gehardloop. Dit was die 5km van die Valhalla Parkrun.
Met dit in gedagte, en om te verduidelik waarom dit so ‘n
besondere dag was, moet ek die horlosie terugdraai na Januarie 1994. Ons het pas Pretoria toe getrek, en die skole
sou oor ‘n week of so na die Kersreses weer begin.
Beide die seuns, wat toe nog in die laerskool was, het 1
200m gehardloop, en ek het gedink hulle moet darem ‘n goeie indruk maak met die
begin van die atletiekseisoen in die nuwe skool. Ek het hulle die namiddag opgekommandeer om
te gaan draf.
Wat ‘n skok was dit nie vir my nie. Ons het pas begin toe hardloop hulle vir my
weg. Ek het besef dat ek die drie jaar
sedert ek ophou rugby speel het, totaal onfiks geword het. En daardie middag besluit ek dit is nou die
einde daarvan. Ek moes van my agterstewe
af kom en weer begin oefen.
Aanvanklik was die idee om maar net na werk ‘n paar
kilometer te hardloop om fiks te word.
Met behulp van die Weermag se Sportkliniek het ek die regte skoene
gekry, en ‘n program om aan die gang te kom.
Die paar kilometer van stap en draf het 5km draf geword. Wat 8km geword het, toe 10, en toe 12.
Na ‘n gekonkel tussen my dierbare vrou, Elize, en haar neef, Daan Boshoff, bevind ek myself
vroeg een Saterdagoggend, heeltemal teen my wil en beplanning in, by Loftus om
aan te tree vir ‘n half-maraton – ‘n hele 21,097494km (as jy nou gesteld is op
detail). Ek was verbaas toe ek halfpad
nog by Daan bly. En nog meer toe hy vir
my sê ek moenie dat hy my ophou nie. Ek strompel
oor die eindstreep in minder as 2 ure.
Soos die slim mense sou sê, die res is geskiedenis. Teen 2000 voltooi ek my vierde en laaste
Comrades Ultra-Maraton, die jaar van die 75ste herdenking[i]
van Suid-Afrika se mees ikoniese en wêreld-bekende padwedloop.
Gerhard het iewers langs die pad ophou hardloop. Christi het
voortgegaan, en vir die res van sy skoolloopbaan gehardloop. Gedurende sy hoërskool-jare het hy by ons
klub aangesluit, en ‘n paar 10km en half-maraton wedlope saam met my
gehardloop. En my weer laat stof
eet. En nooit ophou hardloop nie.
Christi se groot wens was om sy eerste Comrades saam met my
te hardloop. Weens my persoonlike
omstandighede het dit ongelukkig nooit so uitgewerk nie. Hy het intussen sy eerste twee voltooi.
Ek was met my omswerwinge elders vir lank heeltemal van die
pad af, en het later, waar die veiligheidsituasie dit toegelaat het, weer begin
hardloop. Maar nooit verder as so 10km
nie.
In Darfur, in die middel van my laaste jaar daar, het ek
gedink my hardloop-dae is finaal verby toe ek my achilles tendon (hakskeensening)
morsaf geskeur het. Met harde werk en
baie geduld het ek na ongeveer ‘n jaar weer by 10km uitgekom.
En toe, hier teen die einde van die winter vanjaar ontvang ek en
Gerhard ‘n uitdaging van Christi. In
2021 is dit die 100ste herdenking van Comrades.
En ons drie gaan dit saam doen.
Christi het ons gevra wat ons motivering sou wees om so iets te doen. Ek het nooit geantwoord nie, maar as ek moes
sou dit seker dieselfde wees as toe my oorlede ma my gevra het hoekom hardloop
ek Comrades: "Omdat dit daar is" – na aanleiding
van Mallory se antwoord op die vraag waarom hy Everest probeer klim het.
My twee seuns se motiverings is
baie meer genuanseerd en ernstig. Christi
het gesê: “Ek het sedert hoërskool die
ideaal gehad om saam met Pappa die Comrades te hardloop. Soos die jare aanstap,
raak dit al moeiliker om dit te doen en hoe gouer, hoe beter – verwyt is 'n
swaar las om te dra." En: "Ek het die behoefte
om iets "epies" saam met Pappa en Gerhard te doen. Die aard van die
uitdaging as gevolg van die afstand en julle huidige fiksheid maak dit taamlik
‘epies’.”
Gerhard antwoord: “Ons het lekker
gehardloop toe ons op skool was en ek het altyd sommer aangeneem ons gaan almal
eendag die Comrades hardloop. Ek wil nie
eendag terug kyk en dink ek kon dit of dat gedoen het, en myself verwyt omdat
ek te lui was om dit te doen nie.”
Daar wag nog baie harde werk, maar
Comrades 2021, hier kom ons.
[i] Die
eerste Comrades is in 1921 gehardloop.
Die Comrades is nie in 1941-1945, gedurende die Tweede Wêreldoorlog
gehardloop nie.
Comments
Post a Comment