2.1 My eerste Reis na Elders
Dit is Saterdag, 20 Maart
2004. Ek is saam met Piet Botha, die
werktuigkundige, voor in ‘n Samil 50 herwinningsvoertuig met ‘n mynbestande
kajuit op pad van Asmara, die hoofstad van Eritrea na Shilalo in die suid-ooste
van die land.
Ek het pas, net voor
middernag op 18 Maart 2004 in Asmara geland.
Ek sou vir Mechem, ‘n Suid-Afrikaanse landmynopruimingsorganisasie, wat
‘n kontrak met die VN se mynaksiediens gehad het, vir drie maande op aflos-basis
daar gaan werk. Die Vrydag is die administratiewe
proses afgehandel, en het ek die trotse besitter van ‘n VN identiteitskaart
geword.
En so begin my eerste reis
na elders. Maar dit was nie al nie. Piet moes ook ‘n sleepwa gelaai met een van
daardie masjiene met ‘n laaigraaf voor en ‘n slootgrawer agter. En nog 30 sakkies sement en ander
voorraad. Dit was bedoel vir die VN se
mynaksie koördineringsentrum se kantoor in Shilalo.
Dit is teerpad vir die eerste 50 kilometer tot
in Mendefera, die laaste groot dorp waardeur ons sou ry. Daarna is dit grondpad – ‘n hele 200
kilometer daarvan. In Eritrea is afstand
‘n relatiewe begrip sou ek later agterkom.
250 kilometer kan ‘n paar ure neem.
Of amper 11 ure, soos daardie dag.
Eers is die grondpad gebou,
later net geskraap, en dan twee spore.
Die grondpad slinger aanvanklik skouspelagtig deur die berge, meestal
die een pas na die ander af – Shilalo is in die oostelike laagliggende
streek. Ek verwonder my aan die Italiaanse
ingenieurswerk in die passe. En die
ongelooflike natuurtonele met die oggendson wat die berge in dramatiese kleure
verf.
Ons vorder stadig – nooit
vinniger as 60km/h nie, dikwels so 20-30km/h.
Die vrag is swaar en ons kan nie vinnig pas-af ry nie. En sonder veel momentum, ook nie bult op,
wanneer ons moet klim nie.
En toe begin die sleepwa se
remme lol. Hulle wil nie los as ons
onder ‘n lang afdraande kom, en weer wil versnel nie. Piet het geen ander keuse as om die
lugdrukpype te ontkoppel nie. Nou is dit
nog stadiger teen die afdraande af in lae rat.
En geen momentum vir die volgende bult nie.
En toe begin die enjin
lol. Hy verloor krag. Piet vervang die dieselfilter, maar dit help
nie veel nie. So kruip ons maar voort.
Die pad hou net aan en
aan. Dit word ‘n nou klipperige, en dan weer sanderige pad. En dan tweespoorpaadjies. En sinkplaat.
En dit hou net aan. Jy is later
deurgesit. Die Samil 50 se vering is nie
juis ernstige kompetisie vir die deursnee luukse passasiersmotor s’n nie. En nog harder, voel dit later, die sitplekke. En ‘n rooi brandblusser hier net links van my
sitplek wat ook nog soms so in die dwarste in my boud in karring. En sit moet jy sit. En, moet ek byvoeg, my boude is nou ook nie juis
oordadig gestoffeer nie.
Ek sit diekant toe. En dan daaikant toe. Nou op die een boud, dan op die ander. Dan lig ek myself op met my arms met beide boude
in die lug. En dan begin die
bouderuilproses weer van voor af. En die
pad wil nie end kry nie.
Ek soek weer eenslag vatplek
langs my om my boude op te lig. Net toe
my hande die gewig vat, is daar ‘n harde gesuis hier langs my en die kajuit is
vol wit rook. Maar dit ruik nie na rook
nie en ek sien niks brand nie. Piet trap
rem en maak terselfdertyd sy deur oop. En so in ‘n stortvloed van (sommige
onherhaalbare) woorde hoor ek “brandblusser”.
Poeier, dis wat dit
was. Brandblusser poeier. Ek het met my linkerhand die brandblusser se
handvatsel beet gekry en met die oplig-slag die kajuit vol poeier gespuit. Waar die veiligheidspen in my oomblik van
nood was, weet ek nie. Nodeloos om te sê
dat ek en Piet nie op ‘n goeie voet afgeskop het nie. Ek en hy het wel later, veral toe ons ‘n jaar
later in Afghanistan saam gewerk het, goeie vriende geword.
Daardie aand het my eerste
proesel Asmara bier heerlik afgegaan. En
my eerste regte Afrika-reis na elders het ’n onvergeetlike ervaring geword.
Nou is ik van vooraf jaloers maar binnekant toe hat ik lekker gelag ook. Die Dwergie het ook dour in Botswana op n uitreik so n brandblusser glips gehad
ReplyDeleteDit het spook gekos om weer daai Terrano bruikbaar te kry ..... aan ie binnekant